Gesertifiseerde vs. nie-gesertifiseerde tydelike indiensnemingsdienste – wat om te verwag op die dag van oudit

WIETA beveel die gebruik van gesertifiseerde tydelike indiensnemingsdienste (TES) of arbeidskontrakteurs ten sterkste aan, aangesien dit ‘n bykomende vlak van etiese beskerming aan ons verskaffers en wynhandelsmerk-lede bied. Alle tydelike indiensnemingsdienste of kontrakteurs is egter nie in staat om die vereiste nakomingsvereistes na te kom nie, of inderdaad die oudit- of nakomingskoste te bekostig nie. Verlede maand het WIETA trouens meer as 40 TES’e geskors uit die WIETA aanlyn stelsel weens onvermoë om hul verpligtinge na te kom.

Wat moet jy dus weet wanneer jy ‘n oudit in die gesig staar en moet besluit oor die gebruik van ‘n gesertifiseerde teenoor nie-gesertifiseerde TES? Hier is ‘n paar wenke:

Wanneer ‘n gesertifiseerde TES of arbeidskontrakteur gebruik word, moet die produsent wat geoudit word (die geouditeerde) die TES se WIETA-sertifikaat byderhand hê tydens die oudit, sodat die ouditeur dit kan verifieer. Die gesertifiseerde TES of arbeidskontrakteur hoef nie teenwoordig te wees op die dag van die oudit nie, met ander woorde hul werkers sal nie deel vorm van die ouditomvang en onderhoude nie. Ouditeurs sal steeds die verantwoordelikheid hê om seker te maak dat die geouditeerde verantwoordelike werwing toepas in terme van besigheidsverhoudinge, dus sal hulle vra om die diensvlakooreenkoms en bewyse in die vorm van ‘n lêer van een of ander tipe te sien, om seker te maak belangrike dokumentvereistes word gekontroleer, soos die registrasiedokumentasie, BTW-registrasie (indien van toepassing), WVF-registrasie, COIDA-registrasie en brief van goeie stand.

Indien ‘n geldige sertifikaat getoon kan word, sal die ouditeur wil sien dat die geouditeerde ‘n stelsel in plek het om die nakoming van die TES volgens die WIETA-standaard te monitor. Jou monteringskontroles moet insluit om te vra vir bewyse van kontrakte en betaling van minstens die nasionale minimumloon. Bewyse van beroepsgesondheidopleiding en toegang tot persoonlike beskermende toerusting (PPE) word aangeraai. Onthou dat die perseel se risiko-assessering moet insluit werkers wat van tyd tot tyd die perseel betree, en dus moet hierdie werkers deur ‘n perseelinduksie gaan op hulle eerste dag. Die ouditeur kan moontlik vir bewyse vra van hierdie moniteringstelsel. Verstaan asseblief dat dit nie ten doel het om die TES of arbeidskontrakteur weer te oudit nie, maar bloot om te verseker dat jy, as geouditeerde, jou omsigtigheidsondersoek voldoende uitgevoer het, en dat risiko gebaseerde stelsels en kontroles in plek is. ‘n Mens moet nooit aanneem dat die organisasie volledig voldoen aan die kode, standaard of wetgewing bloot omdat ‘n WIETA-sertifikaat gelewer kan word nie, aangesien daar bevindings kan wees wat spesifiek rondom die bogenoemde vereistes geopper kan word.

Wanneer ‘n nie-gesertifiseerde TES of arbeidskontrakteur gebruik word, sal 66% van hul werksmag beskikbaar moet wees op die dag van die oudit om deel te vorm van die omvang en onderhoude. Vir alle praktiese doeleindes sal die TES of arbeidskontrakteur volledig moet deel vorm van die geouditeerde se oudit. Dit beteken dat die TES alle tersaaklike dokumentasie moet verskaf om gekontroleer en kruisverwys te word. Dit is binne die ouditeur se volle reg om te vra vir enige van die volgende dokumentasie wat behoort aan die TES of arbeidskontrakteur: maatskappy-registrasie, WVF-registrasie, BTW-registrasie (indien van toepassing), COIDA-registrasie, brief van goeie stand, betaalstrokies, kontrakte, diensvlakooreenkomste, beroepsgesondheid- en -veiligheidbeleid, etiese beleide, griefmeganismes vir werkers, opleidingsrekords ens.

Let verder daarop dat ‘n TES net soveel verpligting soos die perseel het om te voldoen aan die koste van nakoming, en dus is die aanstelling van die goedkoopste TES of arbeidskontrakteur altyd ‘n gevaarteken dat hulle moontlik nie volkome nakomend is nie, wat gevolglik ‘n groot risiko vir jou en jou verskaffingsketting inhou.

Gevaarlike arbeid tesame met die toenemende voorkoms van gedwonge arbeid en mensehandel, is die nommereen etiese en menseregte-risiko in wyn- en voedselverkaffingskettings. Immer meer kopers van die EU, VK, VSA en Kanada is versigtig oor die versekering van nakoming van wat hulle noem derdeparty-agentskappe wat saam met hul verskaffers werk. Indien jy ‘n TES het wat opleiding en ondersteuning benodig, kontak asseblief vir Chirstone Hornsby by chirstone@wieta.org.za of Louhan Nel by louhan@wieta.org.za vir meer inligting.